Kondensmelk

Ek het ‘n bietjie anders grootgeword. Ons omstandighede was van so ‘n aard dat my ma met kos kon eksperimenteer. Dit was nie van haar verwag om die tradisionele vleis, rys, aartappels en twee slaaie voor te sit nie.

Ek onthou ‘n keer of twee wat my ma gekapte groenboontjies met uie en stukkies aartappel gaargemaak het en net so in papborde geskep het: dit was die volledige ete. Dit sal vir sommige mense baie vreemd klink, maar ons het dit geniet! (Nou dat ek terugdink was dit waarskynlik omdat haar tyd min was en daar vragte groenboontjies in die huis was. Dit was nie ‘n gereelde gebeurtenis nie.)

My ma het ook gereeld aan haar figuur gewerk. Sy was nie ‘n fiksheidsfanatikus nie, maar het elke nou en dan een of ander dieët aangepak. Ek onthou die beroemde 28-dae dieët. My mondhoeke trek in ‘n glimlag as ek daaraan dink. Ons kinders was nie verplig om dit te volg nie, maar ek onthou die papiertjie met elke dag se eetplan wat binne die spenskas se deur geplak was. Die plan was vir my belaglik en ek het nooit daarin belang gestel om dit te volg nie.

Ek het wél deurgedruk met die druiwe-“detox” Februarie-maande. Twee weke van slégs druiwe eet sodat al die gifstowwe uit die liggaam kan kom. Vandag beskou ek dit nie as gesond nie, maar ek kan ook darem sê dat ek dit al in my lewe gedoen het. Dit het my lewe interessant gemaak.

Ons het ook vir 2 jaar ‘n veganiese eetpatroon gevolg: Geen dierprodukte nie. Nie vleis, melk of eiers nie. Ons het wel heuning gebruik. Wanneer ek my man daarvan vertel, dan glo hy dit moes die aakligste en mees smaaklose tyd van my lewe gewees het, maar dit was eintlik die teendeel! Dit was eintlik wonderlik om te sien hoe my ma met soveel passie resepte opsoek en vreemde dinge probeer.

Klappermelk was iets wat altyd in die huis was. Kasjoeneute ook. O, ek verlang so na die kasjoeneute! Kasjoeneute het byna in elke slaai voorgekom. Ons het baie slaai geëet – en ek was gaande daaroor! Ons was blootgestel aan vreemdighede soos draakvrug! Die kos was vars en vrolik. Lig. Ek kon eet soveel as wat ek wou sonder dat ek opgeblase was of gevoel het dat kos swaar in my maag lê.

Vandag is ek in ‘n totale ander omgewing en getrou met ‘n vleisvreter wat hoender as ‘n groente beskou. Rooi vleis, rys, pasta en diepgebraaide aartappels is nou ons stapelvoedsel. My lyf voel opgeblase en swaar. My lyf ís opgeblase en swaar. Met my swangerskap het ek 24kg opgetel en ek sukkel nou nog om dit af te skud.

Dis is nie net my man se eetgewoontes se skuld nie. Ek het die peuselkwaal. Sodra ek oorweldig, eensaam of uitgedaag voel, dan gaan soek ek iets om in my mond te druk. Ek voel gereeld oorweldig, eensaam en uitgedaag. Baie gereeld. Daar is nie meer lekkergoed in die huis nie, maar my eetdrang is soms so groot dat ek aan droë pasta begin knibbel. Ek weet  – dit is vreeslik! Ek voel nie goed daaroor nie.

Ek drink nie suiker in my tee nie. Ek drink nie gaskoeldrank nie. Ek eet nie witbrood nie. Ek gooi nie suiker by my disse nie. Ek drink water en rooibostee. Ek probeer my porsies beperk. Ek kán myself dissiplineer. Ek kán vasbyt en deurdruk. Ek kán en hét al.

…maar op ‘n dag soos vandag, dan vra ek my net af: Vir wat? En maak dan die halwe blikkie kondensmelk wat in die yskas gestaan het leeg.

Nestle-Full-Cream-Sweetened-Condensed-Milk-385g-6001068311804

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s