Waterspel en my hart

Op die een stoep van ons huis staan daar ‘n groot skottel met water. Peuterkind is lief daarvoor om by die skottel te speel. Hy voel met sy vingertjies, spat, klim (met moeite) daarin en daaruit, kyk wat dryf en blaas borrels op die watervlak. Dit is gewoonlik ‘n groot vreugde om hom dop te hou terwyl hy daarmee speel.

So ‘n paar dae gelede het ek hom egter nie dopgehou nie. Twee vriendinne het by my kom kuier en die tuinstoele was net om die draai gepak sodat ons die boom se skaduwee kon geniet. Peuterkind het net om die hoekie gespeel.

Ek het ‘n vreemde slukgeluid gehoor en het opgestaan om te gaan kyk. Stadig genoeg om nie die vriendin wat besig is om te praat aanstoot te gee nie, maar ook vinniger as gewoonlik, omdat ek onraad vermoed het. Skielik hoor ek sy stemmetjie benoud huil.

Met aanskoue het ek onmiddelik besef wat gebeur het, en vir ‘n oomblik het die bloed in my are gestol. Peuterkind het sy lippies teen die watervlak gedruk om borreltjies te blaas en toe sy balans verloor. Die voorste deel van sy kop was nat. Ek kon sien dat sy koppie diép in die water was! Sy groot ogies het ook vertel dat hy geskrik het en benoud was.

Ek het al geleer om kalm op te tree in sulke skrikgevalle en het Peuterkind opgetel en sy nat kinderlyfie teen my vasgedruk en in ‘n rustige stem hom getroos. Ek weet nie of hy kon voel hoe hard my hart aan die binnekant geklop het nie, maar hy het gou tot bedaring gekom.

Vir ‘n paar oomblikke het daar soveel dinge deur my gedagtes gemaal. Wat kon gebeur het? Wat ‘n roekelose ma is ek nie! Ek is goed ingelig oor kindergevare en weet eintlik van beter as om ‘n kind sonder toesig met sulke diep water te laat speel. Ek weet nie hoe my kindjie weer orent gekom het nie, want die skottel se rant is baie hoog. Ek het net daar besef dat ek een van twee keuses het:

Ek kan myself verwyt oor die nalatige ding wat ek begaan het om hom buite sig te laat speel. Ek kan dink oor die verskriklike gevolge wat daar kon gewees het. Ek kan my veilgheidsmaatreëls opskerp en oplees oor verdere gevare. (Juis een van die vriendinne wat by my was het vertel dat sy gelees het van ‘n slang onder ‘n kind se kopkussing en dat sy nou elke aand onder haar kinders se beddegoed kyk.) Ek kan probeer om elke situasie beter te beheer en elke area wat ek en my kind betree fynkam vir elke moontlike gevaar en Peuterkind daarvan weerhou…

Óf

Ek kan ontspan. Ek kan my kind van kop tot toon bestudeer en elke sentimeter van dié lyfie wat nog vir my gespaar is waardéér. Ek kan ‘dankie’ sê dat my Vader die engele opdrag gegee het om my kind te beskerm. Ek kan besef hoe groot my verantwoordelikhied as ouer is, maar ook weet dat God my agterhoede dek. Hý is daar waar ek nie altyd is of kan wees nie.

Ek het die tweede gekies. Ek het net weer besef hoe klein ek is en dat, selfs al het ek al die kennis oor veiligheidsmaatreëls, dat ek nie op my eie hierdie kindjie kan grootkry nie. Ek is so diep afhanklik van my God! Ek het diep asem gehaal en daar het ‘n kalmte oor my gekom.

Toe my vriendinne weg is het ek Peuterkind na die skottel toe geneem. Ek het ons hande daarin laat spat, die speelgoed vrolik uitgehaal en die skottel se water uitgegooi. “Dit was lekker! Toemaar, môre sal ons weer met die water kan speel.”

waterbalie

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s