‘n ‘Busybody’* soos ek

Ek is nie ‘n busybody nie. Altans, nie die tipe wat van vroegoggend tot laataand ‘n besem in die hand het of toonbanke skoonvryf nie. Ek hou nie van ‘n deurmekaar huis nie, maar as ek moet kies tussen ‘n sinvolle gesprek en ‘n sierlike huis, dan kies ek maar die sinvolle gesprek.

Om een of ander rede word ek deur busybodies omring. My suster, my skoonma, my vriendin, my ander vriendin, my ouma… die lys gaan aan! Ek voel dikwels minderwaardig in hulle geselskap. Dalk het die Vader my tussen hulle geplaas om my te motiveer om flukser te wees, het ek al gedink. Dalk nie.

Een van die busybodies het onlangs ‘n operasie ondergaan. Sy was veronderstel om vir 2 weke haar baie rustig te gedra, maar sy het op dag 3 al begin huis skoonmaak. Die meeste mense sal seker in verwondering wees oor die dapper vrou wat so verantwoordelik is om ten spyte van pyn en wonde wat moet genees, tog die huis skoon te maak.

“Jy weet jy moes dit nie gedoen het nie,” het ek vir haar gesê. “Vir ‘n busybody soos ék is dit maar moeilik om te sit en niks doen nie,” was haar antwoord. Ek probeer om nie fyngevoelig daaroor te wees nie, maar daar was tog ‘n hoogmoedigheid in haar te bespeur. “Bog,” dink ek. Om iets te doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie, is nie ‘n teken van verantwoordelikheid nie. Dit is ‘n teken van hardkoppige roekeloosheid.

Dit gaan nie oor fluks wees nie. As jy nie kan stilsit nie, dan maak jy skoon as gevolg van selfsugtige redes, nie as gevolg van diensbaarheid nie.  Wie moet luister na die gekerm en gekla oor die spiere en snye wat seer is daarna? Wie moet hulle bekommer oor jou welstand? Wie moet die ekstra rekeninge betaal as jou wond oopskeur? Wie moet minderwaardig voel oor hulle ondersteuning nie goed genoeg was na jou sin nie, dat jy ‘gedwing’ was om dit self te doen? Wie word in ‘n slegte lig beskou omdat hulle jou ‘toelaat’ om so swaar te kry na ‘n operasie?

Die antwoord is jou man/gesin of wie ook al die naaste aan jou is. Húlle ly daaronder. Ja, hulle lý! Jy doen niemand ‘n guns deur so hardkoppig te wees nie. Jy is nie slim of verantwoordelik nie en beslis nie volwasse nie.

Ek is klaar met die minderwaardigheidsgevoel. Ek voel byna elke dag sleg oor my huis nie konstant in ‘n spogtoestand is nie. Ek werk daaraan om dit darem daagliks in ‘n relatiewe netjiese toestand te kry. Dit is ‘n goeie ding om na te streef, maar ek gaan nie vir een enkele oomblik meer minderwaardig voel teenoor die busybodies nie!

My wasgoed is gewoonlik op hopies gestapel, maar wanneer my peutertjie om die bank aangewaggel kom en my met sy kinderlaggie koggel, dan jaag ek hom in die gang af. Daar is gewoonlik skottelgoed wat by die wasbak staan, maar Manlief weet dat hy aan die etenstafel my onverdeelde aandag kan geniet. My sitkamerbanke se kussings is nie altyd opgepof nie, waar wanneer jy moeg is en dalk ‘n bietjie koud kry, kan jy die vrymoedigheid hê om jou voete op te trek en onder die kniekombersie op te krul.

Liefste busybody, ek is vir jou baie lief, maar een ding moet jy weet: Ek is ook besig – besig om mense waardig te laat voel. Dit is net so eerbaar as ‘n skoon huis.

huisvrou.jpg


*Let wel: Die eintlike betekenis van ‘n busybody is iemand wat inmeng, afluister en/of skinder. In die bostaande skrywe gebruik ek dit (verkeerdelik) soos wat die persoon met wie ek te doen gehad het dit gebruik het.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s