Praat jy te veel met jou kind?

My kind is ‘n rustige kind. Hy is ‘n gemaklike ou dingetjie en, alhoewel hy sekerlik sy babbelrige oomblikke kry, is hy oor die algemeen ook ‘n stil outjie. Ek weet ouers kan maklik oordryf wanneer dit by hul eie kinders kom, maar byna al die mense met wie ons te doen het sal kommentaar daarop lewer om dit te bevestig.

Die naweek was ek in die teenwoordigheid van ‘n ouer kind – ‘n kleuter meisietjie. Sy is ‘n eersteling met ‘n opregte hart en goeie bedoelings, maar sy is baie veeleisend en praat onophoudelik tot almal rondom haar se uitputting. Haar ma is ‘n toegewyde vrou wat baie aandag aan haar gee. ‘n Mens sou seker ‘n deel van die onophoudelike gepratery kon toeskryf aan ‘n gebrek aan dissipline, maar dalk is daar iets dieper om na op te let.

Ek het my die naweek ook bevind in ‘n wagkamer. Daar het ‘n moeder met twee kinders ingestap gekom. Die jongste was ‘n baba van 6 weke en die ander was ‘n seuntjie van so 2 en ‘n half jaar. “Danny, my boy, don’t bother the other boy. He is smaller than you. Be careful at the window. Open the door. Don’t close the door, the baby boy wants to go inside…” Dié moeder het konstant kommentaar gelewer op elke beweging en daad van haar seuntjie.

Dit was duidelik vir haar belangrik om haar kind taalkundig te stimuleer. Sy het soveel moeite gedoen om sy woordeskat uit te brei. Sy is eintlik Afrikaans, het sy my later vertel. Aangesien universiteite al hoe meer Engels is, het sy en haar man besluit om hom tweetalig groot te maak. Sy praat met hom Engels, haar man praat met hom Afrikaans, en sy ouma praat met hom Sotho. Hulle tel ‘n taal baie maklik op op so ‘n vroeë ouderdom, vertel sy my.

Dit is reg. Met my opvoedkundige agtergrond het ek al redelik artikels oor die onderwerp gelees, en hierdie vroutjie doen dinge presies ‘volgens die boek’. Ek bewonder my aan haar toegwydheid! Sy laat nie ‘n oomblik se geleentheid verbygaan om haar seun se dade te beskryf nie. Sy pluk die vrugte van haar arbeid, want die seuntjie sê al heelwat woordjies en geniet dit ook om te praat.

Ek onthou hoe ek as student gedroom en beplan het aan my eie ‘ouerskapstegnieke’. Ek was van plan om dieselfde te doen – om van die eerste paar wekies af my kind bloot te stel aan woordeskat, soos wanneer ek sy lyfie room invryf: “Hier is jou gesiggie, jou kennetjie.  Kom ons vryf jou nekkie, jou bors, jou arms en hande…” Ek was immers ingelig oor die opvoedkunidge waarde van die korrekte blootstelling aan taal.

My planne het egter deur die mat geval toe ek kort voor my kind se geboorte ‘n gedeeltelike verlamming beleef het. My lippe het gehang en dit het veel inspanning geverg om te praat. Die gevolg was dat ek byna nooit met my baba gepraat het nie. Dit was vir my traumaties en ek het gehuil oor die gaping in my kind se opvoeding wat ek veroorsaak het!

Ek het wel met my oë gekommunikeer. Ek het ook moeite gedoen om fyn na sy liggaamlike uitdrukkings op te let. Mettertyd het genesing gekom, maar toe het ek reeds die gewoonte om te praat afgeleer. Daar sou ure in die dag verloop voordat ek besef het dat die twee van ons net in stilte verkeer. Stelselmatig het ek probeer opvang, maar ek het bevind dat ek met hom praat soos met ‘n meer volwasse kind.

Ek verwys nou nie na die gebrek aan baba-taal nie. Baba-taal is belangrik en baie goed vir ‘n kind mits jy dit nie oordoen nie. Ek het steeds baba-taal gepraat, maar net nie so aanhoudend nie. Ek het bloot met hom gesels soos met ‘n normale ouer kind. “Ek sien jy het jou karretjie! Dit is darem maar ‘n lekker speelding. Gaan jy jou karretjie stoot?” …en dan sou ek weer vir ‘n rukkie stilbly.

Ek weet kinders is uiteenlopende wesens en dat daar baie faktore is wat hulle gedrag bepaal, maar vandag wonder ek of my gebrek aan konstante kommentaar nie daartoe bygedra het dat my kind so rustig is nie. Hy is fyn ingestel op liggaamstaal en ek is ook fyn ingestel op sy gebare. Ek stel nie ‘n voorbeeld van ‘n aanhoudende gebabbel nie en hy het ook nie nodig om konstant te probeer praat om my aandag te kry nie.

Ek is seker daar sal nog baie studie oor die onderwerp gedoen word voor daar iets bewys sal kan word, maar ek het vandag opnuut ‘n rustigheid in my. Ja, blootstelling aan taal is vir seker belangrik, maar dit is nie noodwendig nodig om jou kind konstant te stimuleer nie. Die stiltes werk ook goed vir hulle om die inligting te verwerk. Dalk was die hartseer en ongemak van my toestand ‘n bedekte seën.

Dalk het die liewe Vader dit gebruik om my tot hierdie insig te bring en met iemand te deel wat dalk nodig het om dit te hoor, of dalk is ek die klits kwyt. Tyd sal meer antwoorde gee, maar vir nou is ek dankbaar vir dit wat in my lewe gebeur. Ek weet dat Hy in beheer is.

depositphotos_82289046-stock-illustration-cartoon-happy-family-mother-holding

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s