Genoeg

Ek dink ek weet genoeg oor die lewe. Ek dink ek het genoeg gedoen en het genoeg gegroei. Ek sou nie sê dat daar enige plek vir verbetering is nie. Ek is genoeg. Ek is volmaak net soos wat ek is.

Enige persoon wat die bogenoemde stellings sou maak, sou waarskynlik beskou word as ‘n egoïstiese narsis. Tog is dit hoe die moderne samelewing mense wil beskryf! Duisende motiveringspraatjies, prentjie-boodskappe, preke en aanhalings sê die volgende: Jy is genoeg. Jy is volmaak. Jy is reg net soos wat jy is.

Dit klink mooi, maar ek dink dit is ‘n gevaarlike leuen.

Niemand is volmaak nie, en ek dink elke mens is tot ‘n mate bewus daarvan. Ek dink elke mens se onderbewussyn weet wat sy potensiaal is, en wanneer dit nie bereik word nie is daar ‘n hunkering na iets: iets anders, iets beters. Ek kan dit amper beskryf as ‘n onbedwingbare hongerte!

Ons het ‘n ingebore drang om te leer. Aan die begin van ons lewe leer ons dinge op konkrete vlak, en soos wat ons ouer word vind daar meer abstrakte groei plaas, maar groei groei ons. Wel, dit is hoe dit veronderstel is om te wees.

Wanneer ons ophou groei en stagneer, beteken dit nie net dat ons minder vir die samelewing beteken nie, maar dat ons teen God se natuur gaan. Dit pla. Dit druk swaar op die gemoed. Dit is seker dikwels onbewustelik, maar daardie druk kan dan later ontaard in depressie. Depressie is ‘n vreeslike ding. Dit maak van jou ‘n lewende dooie. Ons leef in ‘n wêreld vol dooie mense.

Interessant genoeg: Dit is juis dán wat mense jou probeer opbeur deur te sê dat jy genoeg is. Jy moet jouself aanvaar en liefhê. Dit help tydelik, maar op die langtermyn vererger dit net die saak, want jy kan nie regtig vir jouself lieg nie. Dan vra jy vrae soos: “Waarom kry ek dit nie reg om myself te aanvaar nie?Jou siel wéét dat jy nie is wat jy kan/moet wees nie.

Ons samelewing het die kuns om op die regte manier aan te moedig verleer. Ons is so bang om aanstoot te gee dat ons nie wil erken dat die persoon besig is om sy lewe op te mors nie. Wat sou gebeur as ons vir mekaar iets sou sê soos:

Ja, jy is op ‘n slegte plek. Ek glo jy kan ‘n baie beter mens wees as jy jou gedagtes/emosies/lewe agtermekaar kry. Jy het soveel talente – dit is jammer om te sien dat jy dit verlore laat gaan. Moenie bly lê nie. Daar is nog baie skatte in jou wat ontgin moet word, maar dit kan net gebeur as jý verantwoordelikheid daarvoor neem. Met elke tree wat jy in die regte rigting neem gaan jy die wêreld positief kan beïnvloed. Die wêreld het dit nodig.

Ek sou wat wou gee om iemand te hoor sê dat hulle meer van my verwag. Dit sou impliseer dat hulle die waarde van my mens-wees raaksien.

boompie

 

Lewer kommentaar