Vrees

Job sê in die derde hoofstuk:

Job 3:25 As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.

Ek het al getob oor dié woorde van Job. Niks wat in die Skrif opgeteken is, is tog verniet nie. Wat moet ek hieruit leer? Waarom is dit in soveel gevalle so dat mense se grootste vrese oor hulle kom? Is dit nie onregverdig nie? Nou-ja. Die tegniese en analitiese deel van my brein was aan die werk en ek deel graag dit wat ek hieruit geleer het.

Kom ek noem eers ‘n paar voorbeelde:

‘n Vrees vir honde: As jy ‘n hond vrees en met een in aanraking kom, dan kan hulle dit aanvoel en sien jou dan as ‘n bedreiging. Die resultaat: Jy word makliker gebyt.

‘n Vrees vir hoogtes: As jy bang is vir hoogtes en jy vind jou om een of ander rede op ‘n hoë plek, dan skei jy waarskynlik te veel adrenalien af, waarná jou oordeel tot ‘n mate ingeperk word. Die resultaat: Jy verloor makliker jou balans en val.

‘n Vrees vir siekte/dood: Dit is al oor en oor bewys dat spanning ‘n mens se gesondheid negatief beïnvloed. Die resultaat: Jy word siek/gaan dood as gevolg van spanning.

Goed, die boonste voorbeelde is redelik eenvoudig. Kom ons takel ‘n meer ingewikkelde een:

‘n Vrees vir verwerping: Volgens my waarneming hanteer mense dié vrees op verskeie maniere.

  • Die Versmoorder – Jy is so bang dat jy verwerp sal word, dat jy jou in iemand se lewe so sal inwurm dat daar nooit ruimte of kans is vir jou om verwerp te word nie. Die vriende/familie/persone voel dan of hulle gesmoor word. Die resultaat: Hulle probeer wegkom uit die greep, dus ervaar jy verwerping.
  • Die Supermens – Jy is so bang vir verwerping dat jy konstant jou waarde wil bewys. Jy wil vir almal wys dat jy slim/sterk/interessant is sodat hulle moet dink dat jy te belangrik is om te verloor. Die resultaat: Niemand hou van beterweterigheid nie. Jy word ‘n irritasie en mense begin jou vermy (verwerping).
  • Die Uitlokker  – Omdat jy verwerping vrees, is dit vir jou makliker om verwerping te hanteer wanneer jy dit verwag as wanneer jy aanvaarding soek en dit nie kry nie. So in plaas van om aanvaarding te soek, soek jy verwerping sodat niemand jou ooit onkant kan betrap nie. Jy sal erger voor die dominee vloek, jou soos ‘n slonskous aantrek tussen die mode-bewustes en aspris grappe maak wat mense ongemaklik laat voel. Die resultaat: Mense voel ongemaklik in jou teenwoordigheid en verwerp jou.
  • Die Identiteitlose – Jy is so bang vir verwerping dat jy vir niemand jou ware kleure sal wys nie. Jy stem met almal saam en doen wat enigeen van jou vra. Die resultaat: Alhoewel dit nie na verwerping lýk nie, kry niemand ooit kans om die ware mens wie jy is te aanvaar nie, so dit is ook tot ‘n mate verwerping.

Neem maar enige vrees – ss jy ‘n rukkie oor die saak gaan nadink sal jy vind dat daar ‘n patroon is. Dit was jy vrees is dit wat oor jou sal kom! Dit is eintlik nogal vreesaanjaend!

So wat staan my en jou dan te doen? Is ons veronderstel om nou met nog groter vrese die lewe in te gaan? Nee, ek dink nie so nie. Daar staan ‘n paar maal in die Bybel: “Moenie vrees nie”. Ons Vader is nie onbillik nie, so as Hy so ‘n opdrag gee, dan moet dit tog moonlik wees om dit uit te voer. Dit sê vir my vrees is ‘n keuse.

Sodra ‘n vreesagtige gedagte by jou opkom, moet jy jou gedagtes gevange neem en die gedagte verwerp. Laat dit soos warm lug verdamp! Vervang dan daardie vreesagtige gedagte met sterkte wat jy uit die Woord put. Hier is een wat vir mý van hulp is:

2Timótheüs 1:7 Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

Dit is nie iets wat outomaties gebeur nie, maar met oefening raak dit makliker. Ek bid vandag dat jy van jou vrese verlos mag word en dat jou geloof in die Skepper van die heelal hierdeur versterk sal word. Mag dit so gebeur dat ons Sy naam hierdeur kan verheerlik.

vrees

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s