Pappa’s wat rofstoei

Manlief hou daarvan om met ons klein peutertjie te rofstoei. Wel, so rof as wat ‘n mens seker met ‘n peutertjie kán stoei. Dit is lekker om my seuntjie te hoor kraai van die lag, maar soms voel dit vir my of my man dit net ‘n bietjie te vêr vat.

Ek het al dikwels vir Manlief gekritiseer en gesê: “Jy is te erg!” “Gee hom net kans om asem te haal!” “Jou baard krap sy velletjie!” “Gee hom kans!” “Sies, jy is onredelik met hom!” Dan sal hy effens retireer (net genoeg om my vir ‘n sekonde gerus te stel), en dan weer voorgaan soos tevore. “Kyk, hy kom terug vir nog,” sal hy dan sê.

Om een of ander onverklaarbare rede is my man dan reg. Peutertjie kom nader en vra vir nog! Hy druk sy kop teen sy pa se ken en begin dan giggel as of hy gekielie word. Sy glimlag is breed en ek kan sien dat my kind gelukkig is en elke oomblik van interaksie met sy pappa geniet.

Waarom pla dit my dan so? Ek kielie hom ook, maar ek kan my nooit so vêr kry om my kind se grense só te toets nie. Hoe weet Manlief wanneer om te stop? As my kind so lag dat hy nie asem kan haal nie, dan wil elke sel in my liggaam spook en spartel om die lewe vir hom gemakliker te maak. Hoe kan my man met homself saamleef wanneer hy sulke ‘wrede’ dinge met sy kind aanvang?

Toe deel iemand ‘n wysheid my mee: Dit is my wérk om Peutertjie se lewe gemaklik te maak en dit is Manlief se wérk om sy lewe ongemaklik te maak. Dit is ‘n ma se werk om te versorg en ‘n pa se werk om te bemoedig.

  • Mothers nurture. Fathers encourage.”
  • Ma’s leer ‘n kind om te ontvang. Pa’s leer ‘n kind om te gee.
  • Ma’s leer kinders van veiligheid en bekendheid. Pa’s leer kinders om die onbekende aan te durf.
  • Ma’s leer kinders vertroue. Pa’s leer kinders selfvertroue.

Hoe meer ek daaroor gaan nadink het, hoe meer het dit sin gemaak. Ouerskap is ‘n spanpoging. In plaas daarvan om my man se ouerskap te kritiseer is ek veronderstel om dit te omarm. Sy pappa-wees lyk anders as my mamma-wees, en dit is goed so. Anders beteken nie verkeerd nie.

Op die ou einde kry my kindjie alles wat hy nodig het en ek moet daarby berus dat hy nie alles by mý gaan kry nie. Ek is die meeste van die tyd vir hom verantwoordelik. Vir die kort tydjies wat Manlief vir hom verantwoordelik is, moet ek terugtree en hom toelaat om sy pappa-werk te doen.

Nou, wanneer Manlief ons kindjie kielie totdat sy asem wegraak, probeer ek om my instinkte te bedwing. Ek herinner my daaraan dat dit ook nodig is vir sy ontwikkeling. Dan haal ek asem en glimlag. …en wanneer dit te erg raak, dan staan ek op en sit die ketel aan vir tee.

rofstoei

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s